NOORDWES. – Die Noordwes-onderwysdepartement het voorvalle van beweerde wangedrag teenoor onderwysers by die Sekondêre Skool Batlhaping en Tegniese Skool Mankuroane veroordeel.
Mercy Mokgatle, woordvoerder vir die onderwysdepartement in die provinsie, sê die voorval het by die Sekondêre Skool Batlhaping plaasgevind. ’n Gr. 9-leerling het na bewering ’n onderwyser beledig. Die saak is daarna by die skoolbestuur aangemeld, waarna die leerling hangende ‘n dissiplinêre verhoor geskors is. Die skool se beheerliggaam sal na verwagting oor die saak vergader.
Intussen is kommer ook uitgespreek oor die Tegniese Skool Mankuroane nadat ’n video op sosiale media versprei is wat na bewering wys hoe ’n leerling ’n onderwyser aanval. Dr. Sebonta Francinah Desbo Mohono, Noordwes-LUR vir onderwys, het gesê geweld, intimidasie, mishandeling en disrespek teenoor onderwysers sal nie geduld word nie.
Die departement sal saam met maatskaplike werkers, die polisie, die Quality Learning and Teaching Campaign (QLTC) en ander rolspelers ondersteuning aan die betrokke onderwysers, leerlinge en skoolgemeenskappe bied. Ouers, gemeenskappe en skoolbeheerliggame is deur die departement versoek om saam te werk om dissipline en respek onder leerlinge te bevorder.