Laerskool Eversdal het sy 50ste bestaansjaar op ’n besondere manier gevier deur meer as R358 000 in te samel om organisasies te ondersteun wat ’n verskil in die lewens van kinders, gesinne en kwesbare gemeenskappe maak.
Die openbare laerskool in Eversdal het besluit dat sy halfeeu-viering oor meer as net die skool se eie geskiedenis moet gaan. Deur sy bekende DAMUS-fondsinsamelingsprojek het die skoolgemeenskap saamgestaan om geld in te samel wat volledig teruggeploeg word in die gemeenskap.
DAMUS al sedert 1976 deel van die skool se identiteit
Die skool se 48ste DAMUS-aand is op 27 Augustus aangebied. Die projek vorm reeds sedert 1976 deel van Laerskool Eversdal se identiteit en bring jaarliks leerders, ouers, personeel, oud-leerders en die breër gemeenskap bymekaar.
Vanjaar het die skool ’n besondere doelwit gestel: om 50 organisasies te ondersteun – een vir elke jaar van Laerskool Eversdal se bestaan. Die projek het uiteindelik R358 500 ingesamel.
“Ons het van die begin af gevoel dat Laerskool Eversdal se 50ste bestaansjaar oor meer as net ons eie vieringe moet gaan. Dit moes ook ’n geleentheid wees om ons leuse, ‘Ons gee’, op ’n tasbare manier uit te leef,” het Salomina du Plessis, organiseerder van die fondsinsameling, gesê.
In die 25 dae voor DAMUS het die skool daagliks twee van die begunstigde organisasies op sy sosialemediaplatforms bekendgestel. Die doel was om nie net geld in te samel nie, maar ook groter blootstelling te gee aan organisasies wat dikwels agter die skerms belangrike werk in gemeenskappe verrig.
Skoolhoof: sukses word ook gemeet aan wat jy vir ander beteken
Volgens skoolhoof Gys Burger is die prestasie ’n bewys van wat moontlik is wanneer ’n gemeenskap saamstaan.
“Ons wil hê ons leerders moet verstaan dat sukses nie net gemeet word aan wat jy bereik nie, maar ook aan wat jy bereid is om vir ander te beteken. Waardes soos omgee, deernis, diensbaarheid en vrygewigheid vorm ’n belangrike deel van die mense wat ons hoop ons leerders eendag sal wees.”
Ouers en voogde het produkte, tyd en vaardighede bygedra, personeel het gehelp om die projek te organiseer en leerders het self deelgeneem. Burger het gesê elke persoon wat bygedra het, het deel gevorm van die uiteindelike sukses.
“Hierdie bedrag is nie deur een persoon of een groep ingesamel nie. Dit is wat gebeur wanneer ’n gemeenskap saamstaan rondom ’n gemeenskaplike doel.”
Meer as net ’n viering van vyf dekades
Vir Laerskool Eversdal het die 50ste bestaansjaar daarmee meer geword as ’n viering van vyf dekades se geskiedenis. Dit het ook ’n praktiese uitlewing geword van die skool se leuse: “Ons gee”.
Vyftig jaar, ’n gemeenskap wat hande vat en meer as R358 000 wat terugvloei na mense en organisasies wat dit nodig het.
Lees ook: Laerskool spog met meeste nog tweelinge en drielinge en KYK: Hierdie skoolhoof is beslis sonder vrees