Brekende Nuus
Afrikaans

Oud- munisipale bestuurder in hof vir korrupsie-aanklagte

Foto: Ter illustrasie (Canva)

NOORDWES. – Lesang Cyril Lobakeng (58), wat tot onlangs die waarnemende munisipale bestuurder van die Tswaing- plaaslike munisipaliteit was, het Vrydag 4 September in die landdroshof op Delareyville verskyn. Hy word van ’n oortreding van die wet op munisipale finansiële bestuur aangekla.

Volgends lt.kol. Tinyiko Mathebula, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse polisiediens, het die Valke se eenheid vir ernstige korrupsie die saak ondersoek. Dit handel oor veiligheidsdienste wat glo sonder die korrekte prosesse verkry is.

Luidens ’n verklaring deur die SAPD het die Noordwes-departement van samewerkende regering en tradisionele sake in 2021 ’n veiligheidsmaatskappy vir een maand by die munisipaliteit aangestel. Dié kontrak was R452 000 werd.

Ná die maand het die maatskappy na bewering steeds sekuriteit sonder ’n kontrak gelewer. In April 2022 het die munisipale raad glo besluit om die maatskappy meer as R886 000 te betaal. Lobakeng het die betaling goedgekeur. Hy het egter nie die raad ingelig dat dit onwettig kon wees nie.

Lobakeng is op waarskuwing vrygelaat. Die saak is tot 12 Oktober 2026 uitgestel. Hy sal dan in die gespesialiseerde kommersiële misdaadhof in Vryburg voorkom.