VRYSTAAT. – ’n 61-jarige vrou is Maandagmiddag dood met ’n tou aan haar hande en voete vasgebind, by haar huis in Allanridge aangetref.
Sers. Palesa Thabana, polisiewoordvoerder, sê Allanridge-polisie het omstreeks 12:00 ’n klag ontvang nadat die vrou se kollegas bekommerd geraak het toe sy nie by die werk opgedaag het nie. Hulle het haar dogter in kennis gestel, waarna sy die polisie om hulp genader het. Polisiebeamptes is na die woning in Nyakallong en het die vrou bewusteloos in ’n slaapkamer aangetref. Haar hande en voete was met ’n tou vasgebind. Sy was nie geklee nie. Nooddienste is ontbied en sy is op die toneel dood verklaar.
Die motief vir die moord is nog onbekend en ’n ondersoek is aan die gang. Enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagte of verdagtes kan lei, kan speur.sers. Tshidiso Mabaso by 082 466 8193 bel.