GAUTENG. – Kabelo Mahonko (40), ‘n DA-wyksraadslid, en drie medebeskuldigdes is in die Benoni-landdroshof op aanklagte van moord, poging tot moord en ontvoering op borg vrygelaat.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê Mahonko is op R5 000, en Sibusiso Masondo (43), Muzi Des Godie (33) en Lethabo Makgabo (19), elk op R2 000 borgtog vrygelaat. Volgens Mahanjana word beweer die vier het tussen 16 en 17 Julie 2026 vir Vuyisile Khananda (23) en ’n tweede slagoffer ontvoer en aangerand nadat hulle vermoed het dat die twee by Mahonko se huis ingebreek en gesteel het. Die beskuldigdes het glo op 17 Julie die slagoffers in Longmorestraat in Crystal Park, Benoni, agtergelaat. Albei slagoffers is vir mediese behandeling na ‘n hospitaal geneem. Khananda het later aan sy beserings beswyk. Die beskuldigdes is ná ’n polisie-ondersoek op verskillende datums tussen 17 en 21 Augustus in hegtenis geneem.
Tydens die borgtogverhoor het Mahonko, Masondo en Godie deur hul regsverteenwoordigers beëdigde verklarings ingedien waarin hulle aangevoer het dat hulle eerste oortreders en die primêre versorgers van minderjarige kinders is. Makgabo het soortgelyke argumente aangevoer en gesê hy is ’n eerste keer oortreder, besig met verdere studies en dat die staat se saak teen hom swak is. Staatsaanklaer Girly Mahlangu het borgtog teengestaan. Sers. Jane Mogopa het in ’n beëdigde verklaring aangevoer dat al vier beskuldigdes in dieselfde gebied as staatsgetuies woon en moontlik met hulle kan inmeng. Sy het ook aangedui dat Mahonko ’n sleutelrol in die saak speel.
Die hof het bevind dat die beskuldigdes in belang van geregtigheid op borgtog vrygelaat kan word. Die versorging van minderjarige kinders en die afwesigheid van ‘n vlugrisiko is in ag geneem. As voorwaardes vir hul borgtog moet die vier hul paspoorte ingee, een keer per week by die Crystal Park-polisiekantoor aanmeld en geen direkte of indirekte kontak met getuies hê nie. Die saak is tot 9 Oktober uitgestel vir oordrag na die streekhof.