Brekende Nuus
Vermaak

Ella Langley maak geskiedenis met ‘Choosin’ Texas’

Foto's: Ella Langley

VSA. – Ella Langley se treffer Choosin’ Texas het reeds verskeie rekords op die Billboard-trefferlyste gebreek. Die liedjie is die langslopende nommer 1 deur ’n vroulike country-kunstenaar op die Billboard Hot 100. Selfs Beyoncé en Taylor Swift is onttroon en daar is op Morgan Wallen en Harry Styles se rekords verbeter. Hierdie treffer het reeds meer as 1,5 miljard wêreldwye stromings behaal, terwyl dit in die eerste helfte van 2026 alleen meer as 570 miljoen on-demand klankstromings in die VSA aangeteken het.

En steeds is daar nie einde aan die liedjie se sukses nie. Choosin’ Texas is boonop onlangs as Billboard se Song of the Summer vir 2026 aangewys. Die liedjie het onlangs sy 21ste week op nommer 1 van die Billboard Hot 100 behaal. Dit plaas Langley net een week van die rekord van 22 weke wat Mariah Carey se All I Want for Christmas Is You hou behaal het.

Choosin’ Texas is reeds die langslopende nie-Kersfees-liedjie wat die topposisie op die Hot 100 beklee het. Die liedjie het ook vir 39 weke nommer 1 op Billboard se Hot Country Songs gehaal. Langley het vroeër vanjaar ’n rekord op dié lys opgestel toe sy met Choosin’ Texas en Be Her die eerste vrou geword het om die boonste twee posisies vir meer as een week gelyktydig te beklee. Beyoncé en Taylor Swift het voorheen die boonste twee plekke elk een keer gelyktydig beklee. Die liedjie het boonop ses afsonderlike nommer-een-lopies op die Hot 100 gehad, wat die vorige rekord van vyf deur Morgan Wallen se Last Night en Harry Styles se As It Was verbeter het.

Langley se sukses strek verder as ’n enkele treffer. Haar tweede album, Dandelion, het nommer 1 op die Billboard 200 bereik. Sy het daarmee ook saam met Choosin’ Texas terselfdertyd die nommer-een album en liedjie in die VSA gehad, ’n prestasie wat Billboard as ’n besondere oomblik in haar loopbaan beskryf het. Die sukses het intussen ook tot erkenning by die 2026 CMA-toekennings gelei. Langley het nege benoemings ontvang, die meeste van enige kunstenaar vanjaar. Sy is onder meer vir Entertainer of the Year, Female Vocalist of the Year en Album of the Year benoem.

Bronne: Radio 88.8, MusicRow.com, Forbes, AP, Sony Music UK