VRYSTAAT. – Daar is steeds geen deurbraak in die ondersoek nadat ’n baba se kop vroeër vandeesmaand in Bloemspruit gevind is nie. Die baba se kop is volgens ‘n verbyganger deur honde in die straat gesleep.
Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die ondersoek duur voort en hulle doen steeds ’n beroep op die publiek om te help om die verdagte op te spoor. Die polisie is ontbied nadat die verbyganger die grusame voorval gesien het. Met hul aankoms is die klein kop, sonder die res van die liggaam, gevind. Deskundiges van die plaaslike kriminele rekordsentrum, nooddienste en patologiedienste is na die toneel ontbied.
’n Saak van verberging van geboorte is by die Bloemspruit-polisiekantoor geopen. Enigiemand met inligting wat die polisie kan help om die verdagte op te spoor, of wat inligting het oor die liggaamsdeel wat gevind is, word versoek om lt.kol. Rankhala David Ramasoala by 082 527 7390 te bel.