Brekende Nuus
Nuus

Pasgebore baba verlate in inkopiesak gevind

Foto: SAPD

OOS-KAAP. – Die polisie doen ’n beroep op die publiek om te help om die ma of enige persoon op te spoor wat inligting het oor ’n pasgebore babaseuntjie wat in Spondoweg, naby ’n winkelsentrum, verlate gevind is. Die baba was in ‘n inkopiesak gelos.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê ’n gemeenskapslid het op 22 Augustus, omstreeks 06:30, die baba in die sak gekry en die polisie ontbied. Hy is vir mediese behandeling na Dora Nginza-hospitaal geneem en is tans in ’n veilige plek. Die baba was netjies toegedraai en het ’n wit en pienk trui van pluisstof (fleece) met ’n tekenprentfiguur en die naam “Sophia” aangehad. ’n Roomkleurige en grys dubbelbors-jas van pluisstof en ’n Big Five-kussingsloop is ook by hom gekry. ’n Saak van kindverlating is by die Algoa Park-polisiekantoor geopen. Ondersoeke en navrae in die omliggende gebied het tot dusver geen inligting opgelewer wat speurders kon help om die persoon verantwoordelik te identifiseer nie.

Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat kan help om die baba met sy familie te herenig en die omstandighede van sy verlating vas te stel, om speur.sers. Jason Kivedo by 078 959 1727 te bel.