WES-KAAP. – ’n Opgeleide hond het tydens ’n dwelmsoektog in Hazendal, Kaapstad, dwelms wat in kinderspeelgoed versteek was, uitgesnuffel.
JP Smith, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê beamptes het Sondagoggend tydens patrollie in Hazendal inligting ontvang oor beweerde dwelmhandel by ’n woning in 8ste Laan. Die eienaar het glo toestemming gegee dat die polisie die perseel deursoek. Die K9-hond, genaamd Virus, is daarna gebruik om die perseel te deursoek en het by ’n speelgoedmotor aangedui dat alles nie pluis is nie. Beamptes het die speelgoed ondersoek en ’n deursigtige sakkie met 21 Mandrax-tablette, ’n kwart van ’n Mandrax-tablet en 15 sakkies tik daarin gevind.
Die verdagte is in hegtenis geneem en na Athlone-polisiekantoor geneem, waar die dwelms as bewysstukke ingedien is en geregistreer is.