Brekende Nuus
Nuus

Boer van Xamdeboo skuldig aan mensehandel, verkragting en aanranding

Foto: Louis Lategan Facebook

OOS-KAAP. – Louis Stephanus Lategan (42) ‘n boer van Xamdeboo, is in die Makhanda-hooggeregshof in Makhanda skuldig bevind aan verskeie aanklagte van mensehandel, verkragting en aanranding.

Luxolo Tyali, NVG-woordvoerder, sê Lategan is skuldig bevind op ses aanklagte van mensehandel, vyf van verkragting, asook verskeie aanklagte van die aanranding van kinders en werkers. Hy is ook skuldig bevind aan die onwettige besit van meer as 200 rondtes ammunisie.

Die aanklagte spruit uit voorvalle tussen 2020 en 2023 op Lategan se afgeleë plaas. Volgens getuienis wat in die hof aangebied is, het hy jong vroue wat werk as au pairs gesoek het, na die plaas gelok met beloftes van betaling van tussen R5 000 en R30 000. Die vroue, tussen 18 en 21 jaar oud, was onder meer afkomstig van Bloemfontein, Emalahleni, Standerton en Amanzimtoti. Volgens die NVG het Lategan op verskillende geleenthede die vroue alkohol of ’n drankie met ’n middel laat drink wat hulle uiters lomerig gemaak het. Hulle het die volgende oggend na bewering naak wakker geword en pyn in hul geslagsdele ervaar.

Ondersoeke het volgens die NVG ook fisieke mishandeling van sommige plaaswerkers aan die lig gebring. Werkers is na bewering onder meer met ’n besemstok en sambok geslaan, geskop en in water gestoot.

Die verhoor het langer as 18 maande geduur. Nickie Turner, die adjunkdirekteur van openbare vervolging, het die getuienis van 24 getuies gelei. Lategan het onskuldig gepleit, vier getuies geroep en self getuig. Hy is op een verkragtingsaanklag vrygespreek omdat die kind as klaer nie getuig het nie.

Die saak is vir vonnisverrigtinge tot 21 September uitgestel.