WES-KAAP. – Die Kaapstad-hooggeregshof het Arthur Wheeler se aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding aan die verkragting van en moord op die 8-jarige Daniël Jamneck van die hand gewys.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê Wheeler is op 21 Mei 2026 skuldig bevind aan die verkragting, seksuele aanranding en moord op Daniel, asook die verkragting van ’n volwasse vrou in 2005. Hy is tot twee lewenslange vonnisse gevonnis, asook agt jaar vir seksuele aanranding en 10 jaar vir die verkragting van die volwasse vrou. Wheeler het teen al vier skuldigbevindings verlof tot appèl aangevra, maar die hof het bevind dat die getuienis die skuldigbevindings bo redelike twyfel ondersteun en dat daar geen redelike vooruitsig op sukses met ’n appèl is nie. Die hof het onder meer bevind dat die afwesigheid van DNS-bewyse nie beteken dat Daniël nie verkrag, seksueel aangerand en verwurg is nie.
Wheeler se naam is ook in die nasionale register vir seksuele oortreders geplaas en onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit of met kinders te werk.