OOS-KAAP. – Die polisie in Kariega waarsku motoriste, veral ouers en versorgers wat kinders skool toe vervoer, nadat verskeie diefstalle vanuit motorvoertuie tydens die oggend se skooltyd aangemeld is.
Kapt. Sandra Janse Van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê die voorvalle gebeur wanneer motoriste hul voertuie, selfs vir ’n kort tyd, onbewaak laat en waardevolle items binne sig bly. Motoriste word versoek om handsakke, skootrekenaars, selfone, beursies en ander elektroniese toestelle nie in voertuie te los nie en seker te maak dat voertuie behoorlik gesluit is voordat hulle wegstap.
Motoriste word verder gemaan om nie voertuie met die enjin aan of sleutels binne onbewaak te laat nie. Die polisie verhoog sigbaarheid en monitering rondom skole tydens die oggend se spitstyd.