Brekende Nuus
Nuus

Action Society waarsku DNA-agterstand kan reeksmoordenaar versteek

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – Action Society waarsku dat Suid-Afrika se DNA-agterstand ’n moontlike reeksmoordenaar kan help om onopgemerk te bly, nadat die liggame van nege vroue sedert Julie in Ekurhuleni gevind is.

Juanita du Preez, nasionale woordvoerder van Action Society, sê die ontdekking van die liggame binne ’n betreklik kort tydperk beklemtoon die belangrikheid daarvan dat forensiese bewyse dringend verwerk en met die Nasionale Forensiese DNA-databasis vergelyk word. Du Preez sê indien dieselfde persoon vir van die sterftes verantwoordelik is, kan DNA-bewyse moontlik help om hom aan vorige seksuele oortredings, aanrandings, poging tot moord of moord te verbind.

Action Society het in 2023 berig dat DNA-ontleding in ’n groep van 10 493 geprioritiseerde sake 486 reeksverkragters geïdentifiseer het. Die organisasie het destyds gewaarsku dat herhaalde seksuele oortreders hul misdade kan eskaleer.

Volgens Action Society se jongste beoordeling van die DNA-stelsel het ongeveer 175 500 DNA-inskrywings die voorgeskrewe verwerkingstydperk oorskry. Slegs 3,5% van wangdeppermonsters is binne die voorgeskrewe 30 dae verwerk, terwyl 8,88% van roetine-DNA-bewyse binne die vereiste 35 dae afgehandel is. Action Society doen ’n beroep op die polisie om die forensiese bewyse van die onderskeie tonele dringend te verwerk en dit met die Nasionale Forensiese DNA-databasis en onopgeloste sake te vergelyk. Die organisasie vra ook dat die polisie bevestig of bruikbare DNA op die tonele versamel is, of die profiele verwerk is en of enige moontlike ooreenkomste met vorige sake gevind is.

Die polisie het intussen ’n uitgebreide ondersoek na die sterftes ingestel. Hulle waarsku ook teen onbevestigde inligting oor ’n sogenaamde “Kempton Park-reeksmoordenaar” aangesien die ondersoeke nog aan die gang is.