GAUTENG. – Gracious Nkomo (28) is positief deur haar familie geïdentifiseer, nadat haar liggaam op 10 September langs die R21 in Kempton Park gevind is. Sy is die vierde van nege slagoffers wat positief geïdentifiseer is.
Brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê Nkomo was die derde vrou wie se liggaam op 10 September in die Kempton Park-gebied gevind is. Sy is gedeeltelik geklee gevind. Haar familie het haar op 17 September by die Germistonse lykshuis geïdentifiseer. Die polisie ondersoek Nkomo se moord, asook die ander sake waarin die liggame van vroue in die gebied gevind is.
Lt.genl. Puleng Dimpane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris, sê die ondersoeke vorder en ’n multidissiplinêre span speurders werk daaraan om die omstandighede van die moorde vas te stel om sodoende die verantwoordelikes te identifiseer. Kempton Park bly intussen onder verskerpte polisieteenwoordigheid terwyl die ondersoeke voortduur.