UPINGTON. – Twee mans is Donderdag in afsonderlike voorvalle in Upington in hegtenis geneem nadat die polisie op dagga met ’n gesamentlike geraamde straatwaarde van meer as R276 000 beslag gelê het.
Volgens lt.kol. Thabo Litabe, woordvoerder van die SAPD, het die voorvalle op 17 September plaasgevind. Albei verdagtes is in aanhouding en aangekla van die handel in dwelms. Hulle sal na verwagting binnekort in die Upington-landdroshof verskyn.
In die eerste voorval het polisiebeamptes omstreeks 08:30, nadat hulle inligting opgevolg het, ’n voertuig in Swartmodderweg voorgekeer.
’n 55-jarige man is na bewering in besit van dagga met ’n geraamde straatwaarde van sowat R246 500 gevind. Daar is ook op die voertuig vir verdere ondersoek beslag gelê.
In ’n afsonderlike voorval het die polisie omstreeks 12:55 inligting ontvang oor ’n buitelander wat na bewering dagga in die sentrale sakegebied van Upington verkoop.
Polisiebeamptes het op die inligting gereageer en die verdagte na bewering op straat aangetref waar hy dagga verkoop het. ’n Soektog het gelei tot die beslaglegging op dagga met ’n geraamde straatwaarde van sowat R30 000, asook ’n klein skaal wat vermoedelik gebruik is om die dwelms te weeg.
Die verdagte is in hegtenis geneem en aangekla van die handel in dwelms. ’n Verdere aanklag ingevolge die Immigrasiewet kan moontlik volg, afhangende van die uitslag van die ondersoek.
Die ZF Mgcawu-distrik se bestuur het die polisiebeamptes geloof vir hul vinnige optrede en die gebruik van intelligensiegedrewe polisiëring.
Volgens die SAPD sal operasies om die onwettige dwelmhandel te bekamp voortgaan, met die fokus op intelligensiegedrewe optrede, geteikende ingrypings en samewerking met ander wetstoepassingsagentskappe en rolspelers.
Bron: SAPD