Brekende Nuus
Nuus

Paul Roos Gimnasium betreur dood van leerling

Foto: Paul Roos Gimnasium

WES-KAAP. – Paul Roos Gimnasium het met hartseer die dood van Nico Caine (15), ’n gr. 9-leerling, aangekondig. Volgens die skool is Nico Donderdagaand oorlede.

Geen verdere besonderhede oor die omstandighede van sy dood is bekend gemaak nie. Die skool het sy innige meegevoel aan Nico se familie en vriende betuig en gesê hulle dink aan almal wat hom liefgehad het terwyl hulle deur die verlies gaan. Paul Roos Gimnasium het ook ’n beroep op die publiek gedoen om die familie se privaatheid in dié moeilike tyd te respekteer.

Die skool het intussen ook ’n ondersteuningsboodskap aan ouers uitgereik waarin verduidelik word dat verlies en rou op verskillende maniere deur ’n skoolgemeenskap kan beweeg. Ouers is aangemoedig om met hul seuns te praat, na hulle te luister en aandag te gee aan veranderinge in gedrag of emosionele welstand. Die skool se beradingspan het onder meer gewaarsku teen tekens soos uitsprake oor hopeloosheid, onttrekking, selfbesering, ongewone gedrag en skielike veranderinge in bui of daaglikse funksionering. Die skool het ook beklemtoon dat hulp vroeg gesoek moet word indien daar kommer oor ’n jongmens se veiligheid is.