Brekende Nuus
Nuus

‘Dit is net ’n kwessie van tyd’ – SAPD oor vrouemoorde

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – “Dit is net ’n kwessie van tyd” voordat die persone wat verantwoordelik is vir die onlangse moorde op vroue, gevind word. Dít is die boodskap van lt.genl. Tebello Mosikili, adjunk- nasionale kommissaris vir polisiëring, wat Maandag gesê het die polisie se ondersoekspanne werk onverpoosd om diegene verantwoordelik te identifiseer.

Mosikili het buite die Boksburg-landdroshof gesê die polisie gaan nie ondersoeke verhaas bloot om inhegtenisnemings te maak nie, maar wil seker maak dat die regte mense op grond van bewyse wat in die hof kan staande bly, in hegtenis geneem word. ’n Versterkte multidissiplinêre span van ervare speurders, forensiese spesialiste en ander kundiges ondersoek elke saak en volg geloofwaardige leidrade.

Hy het gesê die polisie ondersoek onder meer die moord op Jabulile Ntimba, wie se liggaam gedeeltelik geklee in Villa Liza naby Dawn Park gevind is, asook die sake van Busisiwe Mahlangu, Itumeleng Kekana, Nomfesane Mjobo, Gracious Nkomo en Elizabeth Moselakgomo. Dineo Motapane se liggaam is in Kwa-Thema gevind, terwyl die liggame van drie ander vroue, insluitend die jongste slagoffer wat by Soweto-dam gevind is, ook ondersoek word. 

In Ntimba se geval is daar volgens Mosikili ’n aanduiding dat haar moord moontlik met ’n verhoudingskwessie verband hou, maar hy het gesê meer besonderhede kan nie bekend gemaak word nie. Die R400 000-beloning vir geloofwaardige inligting wat die sake kan help oplos, bly beskikbaar.