KWAZULU-NATAL. – Die inhegtenisneming van ’n 36-jarige man wat glo met die verkragting van 14 vroue verbind word, is die tweede inhegtenisneming van ’n vermeende reeksverkragter binne ’n kort tydperk in dié provinsie. Die man is Sondag 20 September in die Ncotshane-gebied buite Nongoma deur speurders van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) in Ulundi in hegtenis geneem.
Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê die eerste saak teen die verdagte dateer uit Januarie 2010 toe ’n vrou na bewering in Mahlabathini verkrag is. Hy is destyds in hegtenis geneem en op borgtog vrygelaat, waarna hy na bewering uit die hof weggebly het en ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is. Terwyl hy op borgtog was, is hy volgens die polisie met nog 13 sake verbind – sewe in Pongola, vier in Primrose en Germiston in Gauteng en een elk in Paulpietersburg en Magudu.
Die verdagte het glo huise binnegedring waar vroue alleen was deur ’n venster of deur oop te breek, waarna hy hulle met ’n mes gedreig het. DNS-ontleding het hom volgens die polisie met die sake verbind. Hy het op Maandag 21 September in die Mahlabathini-landdroshof verskyn op die aanklag dat hy in 2010 versuim het om in die hof te verskyn. Hy sal formeel van die ander 13 verkragtings aangekla word.
Hierdie inhegtenisnming volg kort ná die arrestasie van ’n 46-jarige vermeende reeksverkragter in Cato Manor op 17 September. Dié man word met die verkragting van 16 vroue verbind – 14 in Cato Manor en een elk in Plessislaer en Taylor’s Halt. Volgens die polisie het hy tussen 2014 en 2025 meestal snags vroue van tavernes na hul huise gevolg, waar hy hulle na bewering verkrag en van hul besittings beroof het. In sommige gevalle het hy glo by huise ingebreek en vroue met ’n mes gedreig.