GAUTENG. – 10 verdagtes tussen 30 en 54 jaar oud is in hegtenis geneem en een is dood nadat ‘n skietgeveg met die polisie Maandagaand in Cleveland, Johannesburg uitgebreek het.
Kapt. Tintswalo Sibeko, polisiewoordvoerder, sê die skietgeveg het kort ná 19:30 uitgebreek toe polisiebeamptes op patrollie ’n verdagte Hyundai H100 met blou ligte en ’n sirene opgemerk het. Die voertuig het telkens gestop wanneer die polisie dit probeer onderskep het en daarna weggejaag.
Versterkings is ontbied en beamptes het die voertuig gevolg totdat dit uiteindelik tot stilstand gekom het. Drie verdagtes het glo uit die voertuig gespring en op die polisie losgebrand, waarna ’n skietgeveg uitgebreek het. Twee verdagtes het te voet gevlug, terwyl ’n derde verdagte noodlottig gewond is.
Tydens ’n deursoeking van die voertuig is 10 verdagtes aangetref en nege vuurwapens, magasyne en lewendige ammunisie is gevind. Daar is op agt vuurwapens beslag gelê. ’n Saak van moord, poging tot moord, poging tot sakeroof en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie is geopen. Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn. Die polisie se ondersoek duur voort.