Brekende Nuus
Nuus

Studie: Trofeejag meer positief as negatief vir mense en natuur in Afrika

Foto: Ter illustrasie

WES-KAAP. – Trofeejag se uitwerking op bewaring en gemeenskappe verskil. ’n Nuwe studie deur internasionale navorsers, waaronder van die Universiteit Stellenbosch, toon dat die uitwerking van trofeejag op bewaring en plaaslike gemeenskappe nie eenvoudig as positief of negatief geklassifiseer kan word nie. In die studie was meer gevalle positief as negatief met ‘n persentasie wat onduidelik was.

Navorsers het 89 wetenskaplike artikels oor trofeejag in 13 lande suid van die Sahara ontleed. In 65% van die gevalle is positiewe uitkomste vir bewaring of gemeenskapswelstand aangeteken, teenoor 26% negatiewe en 9% onduidelike uitkomste. In 92% van die gevalle is trofeejag met ’n toename in grond onder bewaringbestuur verbind. 

Martin Viljoen, US-woordvoerder, sê die studie wys onder meer dat uitkomste meer dikwels positief was waar plaaslike gemeenskappe en private grondeienaars regte oor grond en wild gehad het en inkomste uit jag ontvang het.

Dr. Hayley Clements, die hoofouteur en bekleër van die Oppenheimer-Jamma-navorsingsleerstoel in Afrika-natuurlewe-ekonomieë by die Sentrum vir Volhoubaarheidsoorgange aan die US, sê: “Trofeejag is een van Afrika se mees omstrede bewaringstrategieë. Altesame 23 lande in Afrika suid van die Sahara laat dit toe en daar is al hoe meer druk in Europa en elders in die globale Noorde om die invoer van jagtrofeë heeltemal te verbied. Openbare debatte oor trofeejag word egter dikwels deur etiek en aannames eerder as bewyse aangevuur. Tot op hede het geen studie ál die wetenskaplike bewyse aangebied oor of dié praktyk bewaring en plaaslike gemeenskappe help of benadeel nie.” Sy voeg by: “Daar is ʼn geneigdheid om trofeejag as óf onvoorwaardelik goed óf onvoorwaardelik sleg te beoordeel. Ons oorsig toon dat die werklikheid veel meer konteksspesifiek is – en beleidmakers kan op grond van daardie konteks optree.”

Druk hier om meer te lees. En hier om die gepubliseerde studie, Conservation Letters, te lees.

Foto: Haylee Clements (Fotokrediet: Universiteit Stellenbosch)