GAUTENG. – Die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling het altesame vier bevestigde uitbrekings van Afrika-varkpes (ASF) in gebiede van die Stad Tshwane aangemeld. Die eerste uitbreking is in Augustus in Mamelodi-Oos bevestig, waarna nog drie uitbrekings in Haakdoornboom, Grootvlei en Lusthof (noord van Pretoria) aangemeld is.
Twee verdere verdagte uitbrekings in Lusthof word ondersoek. Die huidige infeksiebrandpunt is hoofsaaklik in die noorde van Pretoria. Dr. Farah Abdool-Khader, hoof-staatsveearts vir dieregesondheid in Pretoria, sê in ‘n verklaring die siekte is ’n hoogs aansteeklike virussiekte wat mak- en wildevarke aantas, maar geen risiko vir mense of voedselveiligheid inhou nie. Die siekte kan ’n baie hoë vrektesyfer veroorsaak en versprei deur direkte kontak, besmette voer, asook besmette klere, voertuie en toerusting.
Die departement het ook bewegingsbeheer ingestel. Alle verskuiwings van lewende varke uit Haakdoornboom 267 JR, Mamelodi-Oos, Lusthof 114 JR, Grootvlei 272 JR, Vastfontein 271 JR, Bultfontein 107 JR, Rooiwal 270 JR, Waterval 273 JR, Pyramid Estate AH en Wallmansthal AH moet met ’n geldige bewegingspermit van die staatsveearts geskied. Die maatreël is daarop gemik om die moontlike verspreiding van die virus deur die beweging van lewende varke te voorkom.
Simptome sluit onder meer hoë koors, verlies aan eetlus, lusteloosheid, asemhalingsprobleme, rooi of pers verkleuring van die vel, bloeding, diarree, braking en swakheid van die agterbene in. Dragtige sôe kan ook aborteer, terwyl die siekte in ernstige gevalle skielike vrektes kan veroorsaak.
Varkboere wat ’n vermoedelike geval wil aanmeld, kan dr. Farah Abdool-Khader, staatsveearts vir die Stad Tshwane, by 072 084 4339 of [email protected] kontak.