Brekende Nuus
Nuus

Plaasaanvalle: Veiligheid begin lank voordat aanvallers opdaag

Foto: Ter illustrasie

Veiligheid op plase begin lank voordat ’n aanval plaasvind, en boere en plaasbewoners moenie wag totdat ’n krisis ontstaan voordat hulle hul veiligheidsmaatreëls hersien nie. Dit is die kern van ’n drieledige projek deur Mike Bolhuis van Specialised Security Services (SSS), waarin hy kyk na die erns van plaasaanvalle, voorkoming en wat tydens en ná ’n aanval gedoen moet word.

Bolhuis wys daarop dat geen enkele veiligheidsmaatreël kan waarborg dat ’n plaas nooit aangeval sal word nie. Volgens hom moet elke eiendom se spesifieke kwesbaarhede geïdentifiseer word, insluitend toegangspunte, hekke, blindekolle, roetines en hoe vinnig hulp die eiendom kan bereik. Hy waarsku ook teen die deel van sensitiewe inligting op sosiale media, soos wanneer ’n huis leeg is, wanneer familie weg is, waar waardevolle toerusting gehou word, wanneer vee verskuif word en besonderhede oor wapens en veiligheidstelsels. 

Onbekende besoekers, kontrakteurs en werksoekers moet behoorlik geverifieer word voordat toegang verleen word, terwyl werknemers aangemoedig moet word om verdagte voertuie, persone of aktiwiteite aan te meld sonder om self verdagtes te konfronteer. Bolhuis beklemtoon verder dat boere hul veiligheidsnetwerk met die polisie, gemeenskapspolisiëringsforums, bure, private veiligheidsmaatskappye en nooddienste moet ken en gereeld kommunikasiekanale moet toets.

Indien ’n aanval plaasvind, moet menslike lewe volgens SSS eerste gestel word. Slagoffers moet, waar dit veilig is, die alarm aktiveer en die polisie en ander nooddienste kontak met ’n presiese ligging, plaasnaam, naaste pad, hek of ingang en GPS-koördinate indien beskikbaar. Slagoffers moet nie gewapende verdagtes onnodig konfronteer of vlugtende verdagtes agternasit nie. 

Ná die onmiddellike gevaar verby is, moet die misdaadtoneel en moontlike bewyse beskerm word. CCTV-materiaal, alarm-, telefoon- en toegangsrekords en ander digitale bewyse moet behoue bly en niks op die toneel moet onnodig verskuif of skoongemaak word nie. Getuies behoort ook so gou moontlik hul eie herinneringe neer te skryf, insluitend beskrywings van verdagtes, voertuie, wapens, rigting van vlug en tye.

SSS waarsku voorts dat gemeenskappe ná ’n plaasaanval nie hul eie ondersoek op sosiale media moet begin nie. Foto’s, name, registrasienommers en bewerings oor vermeende verdagtes moenie sonder verifikasie versprei word nie, aangesien ’n onskuldige persoon verkeerdelik geïdentifiseer kan word en ’n ondersoek benadeel kan word. 

Bolhuis se drieledige boodskap is dat veiligheid ’n voortdurende proses moet wees: identifiseer kwesbaarhede, beheer toegang, beskerm sensitiewe inligting, handhaaf kommunikasie, weet wie om te kontak en wees voorbereid voordat ’n aanval plaasvind. SSS het ook verwys na die Flemming-susters, Hester en Cecilia Johanna, wat ná ’n plaasaanval in Oktober 2024 vermis geraak en later dood in ’n oopgroefmyn by Eikenhof gevind is.

Druk op die volgende skakels om meer te lees: Deel 1, Deel 2, Deel 3