Brekende Nuus
Nuus

Verdagtes in Stellenbosch aangekeer in K9-operasie

Foto: Stellenbosch Munisipaliteit

WES-KAAP. – Vier verdagtes is Sondag tydens ’n gesamentlike operasie in Devon Valley, Stellenbosch, in hegtenis geneem. Volgens die Stellenbosch-munisipaliteit is op ’n ongelisensieerde 9 mm-vuurwapen, ammunisie en dwelms beslag gelê.

Die munisipaliteit het in ’n sosialemediaplasing gesê die munisipaliteit se nuwe K9-eenheid het ’n belangrike rol gespeel. K9-Ezmin, wat saam met beampte Caiden Leibrandt en lede van die taktiese reaksie-eenheid gewerk het, het volgens die munisipaliteit tot die sukses bygedra. Die munisipaliteit sê die amptelike bekendstelling van sy K9-eenheid vind Donderdag plaas.

“Ons splinternuwe K9-eenheid maak reeds sy merk! Terwyl Juno die afgelope paar weke die kollig gesteel het, is ons vandag opgewonde om nog ’n viervoetige ster aan julle bekend te stel: K9 Ezmin! En dit is maar net die begin. Die amptelike bekendstelling van ons K9-eenheid vind Donderdag plaas. Bly ingeskakel vir meer besonderhede terwyl ons die span bekendstel wat help om ons gemeenskappe veiliger te maak.”