Brekende Nuus
Nuus

Thembisa-vrouemoord – verdagte dood in voertuig aangetref

Foto: Yusuf Ambramjee

GAUTENG. – Die man wat deur die polisie verbind word met die moord op die 23-jarige Boitumelo Gift Mashita in Thembisa, is dood in sy voertuig in Midrand aangetref.

Volgens polisiewoordvoerder, brig. Brenda Muridili, is die man, wat Mashita se vervreemde man was as ’n persoon van belang in die moordondersoek geïdentifiseer en deur die Thembisa-opsporingseenheid gesoek. Midrand-polisie het die span later ingelig dat sy voertuig binne hul polisiewyk gevind is, met sy liggaam daarin. Volgens die polisie word vermoed dat hy ’n onbekende middel ingeneem het. Geen tekens van gemene spel is in hierdie stadium gevind nie. ’n Lykskouing sal die presiese oorsaak van sy dood bepaal en Midrand-polisie sal ’n geregtelike doodsondersoek registreer.

Mashita is Maandagoggend omstreeks 05:45 in Temong, Mapungubwe-straat, geskiet en tydens ’n beweerde rooftog doodgemaak terwyl sy op pad werk toe was. Haar besittings was geneem.