Brekende Nuus
Nuus

Nuwe wet kan rook in motor met kind en nie-roker 6 mnde. tronkstraf beteken

Foto: Ter illustrasie

Suid-Afrikaners kan volgens voorgestelde nuwe tabakwetgewing met ’n boete of tot ses maande gevangenisstraf gestraf word indien hulle in ’n motor rook terwyl ’n kind of nie-roker teenwoordig is.

Die Wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Damprooktoestelle moet nog deur die parlement deurgevoer word. Die portefeuljekomitee oor gesondheid het die wetsontwerp se wenslikheid op 24 Junie aanvaar en het op 12 Augustus met klousule-vir-klousule-oorweging van die wetsontwerp begin. Die wetsontwerp bepaal dat niemand in ’n motorvoertuig of privaat afgeslote ruimte mag rook wanneer ’n kind of nie-roker teenwoordig is nie. Die voorgestelde strafbepaling maak voorsiening vir ’n boete, gevangenisstraf van hoogstens ses maande, of albei indien iemand aan dié bepaling skuldig bevind word. Rook en die gebruik van elektroniese stelsels in verskeie openbare ruimtes, werkplekke en openbare vervoer sal verder gereguleer word. Dit sluit onder meer nuwe bepalings oor verpakking, advertensies, verkope en die vertoon van tabak- en damprookprodukte in.

Die bestaande wet verbied reeds rook in ’n motorvoertuig wanneer ’n kind jonger as 12 jaar teenwoordig is. Die nuwe wetsontwerp stel dus ’n breër verbod voor wat ook nie-rokers in voertuie insluit. Die wetsontwerp moet egter nog die res van die parlementêre proses deurloop voordat dit wet kan word. 

Dt is ‘n ou wetsontwerp wat reeds in 2022 ingedien is en nou weer deur die Parlement se gedetailleerde wetgewende proses beweeg. Byna 7 900 mense het die openbare verhore bygewoon en daar was sowat 40 000 skriftelike voorleggings.

Bronne: Parliament of South Africa, Parliament of South Africa, Acts Online