Brekende Nuus
Nuus

Man op borgtog ná voorval by Vlamo-restaurant

Foto: NVG

GAUTENG. – Lawrence Chamurwa Mudzinganyama (40) het op 10 aanklagte wat verband hou met ’n beweerde voorval by die Sandtonse restaurant Vlamo in die Randburg-landdroshof verskyn.

Kaizer Kganyago, NVG-woordvoerder, sê die beskuldigde is op 20 September by die Randburg-polisiekantoor in hegtenis geneem en aanvanklik op ’n aanklag van intimidasie met ‘n waarskuwing vrygelaat. Ná verdere ondersoek, insluitend getuienisverklarings en videomateriaal, is nog aanklagte ingestel. Hy staan nou tereg op drie aanklagte van intimidasie, drie van aanranding met die opset om ernstig te beseer, drie van crimen injuria en een van bedrog.

Die aanklagte spruit uit ’n beweerde voorval op 18 September by Vlamo. Volgens die staat het Mudzinganyama die vrouetoilet binnegegaan en geëis om een van die getuies af te neem, waarna hy na bewering drie getuies met geweld en die dood gedreig het. Hy word ook daarvan beskuldig dat hy die klaers met ’n neerhalende naam beledig en hul waardigheid in die teenwoordigheid van ander aangetas het. Die bedrogsaak hou verband met die beweerde vals voorstelling dat hy die eienaar van Vlamo-restaurant is.

Die staat het aansoek gedoen dat sy vrylating op waarskuwing heroorweeg moet word en dat borgtog opgelê word. Die hof het hom op R15 000 borgtog vrygelaat. Hy moet weekliks by die Randburg-polisiekantoor aanmeld, mag nie met getuies of Vlamo-werknemers inmeng nie, moet sy paspoort en ander reisdokumente aan die ondersoekbeampte oorhandig en mag nie Gauteng verlaat nie.

Die saak is vir oordrag na die streekhof tot 15 Oktober uitgestel. Die NVG sê hy neem bewerings van geweld, dreigemente en intimidasie ernstig op en bly verbind tot die vervolging van geslagsgebaseerde geweld en verwante misdrywe.