Brekende Nuus
Nuus

‘7de Laan’-aktrise Carina Nel onthul borskankerdiagnose

Foto's: Carina Nel

Dit is borskankerbewusmakingsmaand. Die Suid-Afrikaanse aktrise Carina Nel, bekend vir haar rol in 7de Laan, het onthul dat sy in April met borskanker gediagnoseer is.

Nel sê haar wêreld het op 16 April tot stilstand gekom toe ’n gewas en limfknoop tydens ‘n ondersoek in haar linkerbors gevind is. ’n Biopsie is onmiddellik gedoen, waarna sy vyf dae later met borskanker gediagnoseer is. Sy het op 5 Mei met chemoterapie begin en is steeds met behandeling besig. Sy sê daar lê nog verskeie operasies, verdere skanderings, moontlike bestraling en jare se hormoonbehandeling voor. Nel beskryf die pad as lank en moeilik, maar sê sy probeer vrede maak met haar nuwe werklikheid. Sy het haar familie en vriende bedank vir hul ondersteuning en sê haar geloof gee haar krag tydens die moeilike tyd.

“Ons dien ’n LEWENDE GOD,” het Nel gesê en bygevoeg dat sy oorweldig is deur die liefde, ondersteuning en gebed wat sy ontvang.

Lees die aktrise se plasing op sosiale media hier onder:

Op 16 April is my hele wêreld tot stilstand geruk. Ek is in vir ‘n mammogram, sonar, en ‘n onmiddelikke biopsie van ‘n gewas en limfklier in my linkerbors. Binne ‘n uur het die lewe soos ek dit geken het in ‘n oogwink verander. ‘n Verlammende vrees wat ek aan niemand kan verduidelik nie het my oorval.

Op 21 April is ek gediagnoseer met borskanker.

Kanker. Dit voel steeds vreemd om dit te sê. Asof ek inkyk in iemand anders se lewe. Nooit sou ek kon dink dat dit deel sou wees van my paadjie nie. Ewe skielik was ek deel van ‘n groep mense wat ek nooit gedink het ek sou deel vorm van nie. Ek het altyd by die hospitaal verby die onkologiegebou gery, en gedink: sjoe dit moet vreesaanjaend wees om in daardie gebou te wees, en hier sit ek self weekliks in daardie gebou. Ewe skielik is my lewe gevul met terme en woorde waarvan ek min kennis gedra het, maar baie vinnig moes leer: onkoloog, chemo, bestraling, mastektomie, rekonstruksie, ER+, HER2, ens. My dae was skielik gevul met baie doktersafsprake, scans, bloed trek, hospitale.

Ek het op 5 Mei met my chemoterapie begin, en is tans nog besig daarmee.

Die pad is lank en moeilik. Daar lê nog baie opdraandes voor my, maande se behandeling wat al afgehandel is en nog voorlê, verskeie chirurgie, nog scans, nog dokters, moontlike bestraling, jare se hormoonbehandeling, newe-effekte ens. My lewe sal nooit weer dieselfde wees nie, en ek probeer nog vrede daarmee maak. My hart is seer. Maar in dit leer ek ‘n nuwe weergawe van myself ken. Ek leer die mooiste lesse en my karakter word gebou en aan geskaaf om die Here se plan vir my lewe ten volle uit te leef. Ek is sterk en positief en so trots op myself!

En dis nie net ek wat veg nie. My gesin en familie veg saam met my. Mense weet nie altyd hoe baie kanker die mense wat jou lief het ook affekteer nie. Julle dra dit saam met my. Julle hou my regop op die dae wat ek swak, moeg en bang voel. Julle het my lief deur elke fase van hierdie seisoen. Dankie, julle elkeen weet wat julle vir my beteken!

Daar is nog so baie wat ek graag nog gaan deel met almal!

Maar vir nou wil ek net sê:

Ons dien ‘n LEWENDE GOD. Sy genade en liefde en krag is oorweldigend! Ek roep Sy naam uit sodra die vrees my oorval en Sy vrede en kalmte spoel oor my soos ‘n groot golf! Hy het vir my ‘n hele weermag van Sy voete op aarde gestuur! Ek is totaal en al oorweldig met al die liefde en ondersteuning wat ek tot dusver ontvang het. Ek sien JESUS oral om my en in elke mens wat in oorvloed vir my opgedaag het, elkeen op sy/haar spesiale manier! Die wat by my kom sit en bid, die wat ‘n teetjie kom drink en my laat lag, die wat saam met my kom huil, die wat sakke en sakke en potte kos aandra (en selfs coolers vol), die wat die mooiste blomme bring, lekkernye, spesiale geskenkies, en die wat gereeld met boodskappe incheck (al sukkel ek soms om die kapasiteit te kry om terug te stuur). Elke mens op sy eie manier spesiaal! Hoe kan ek genoeg dankie sê! Ek kan letterlik voel hoe daar vir my gebid word. In een van my donkerste tye, voel ek soos die gelukkigste mens om so geliefd te wees! Dankie Here vir U engele op aarde!

Hoe bly mens staande deur so moeilike tyd… jy doen nie…. jy is op die grond op jou knieë… jou mense tel jou op en dra jou, met die Here se krag en genade, en Hy belowe my: “Ek sal jou nooit verlaat nie, Ek sal jou nooit in die steek laat nie”