Brekende Nuus
Nuus

Medisyne-tekorte deur Gauteng-gesondheidsdepartement erken

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – Die Gautengse departement van gesondheid erken dat daar tans voorsieningsprobleme is wat die beskikbaarheid van sekere medisyne by openbare gesondheidsfasiliteite in die provinsie beïnvloed.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, sê die uitdagings word deur verskeie faktore veroorsaak, waaronder veranderinge in medisynekontrakte, vertragings deur verskaffers, lang verkrygingstye, beperkte deelname deur verskaffers en groter druk op die farmaseutiese voorsieningsketting. Die departement gebruik onder meer die voorraadmoniteringstelsel om voorraadvlakke voortdurend te monitor, moontlike tekorte vroeg te identifiseer en dit te eskaleer.

Volgens die departement beteken die tydelike onbeskikbaarheid van ’n spesifieke handelsmerk, verpakkingsgrootte of verskaffer se produk nie noodwendig dat die medikasie glad nie beskikbaar is nie. Waar ’n spesifieke medisyne, sterkte of verpakkingsgrootte nie beskikbaar is nie, maak die protokol vir medisynebeskikbaarheid en eskalering voorsiening vir alternatiewe verpakkingsgroottes, sterktes en klinies toepaslike alternatiewe behandelings volgens goedgekeurde behandelingsriglyne.

Voorraad kan ook tussen fasiliteite en distrikte verskuif word om beskikbaarheid te verbeter en vermorsing te beperk. Fasiliteite en distrikte kan verskaffers versoek om uitstaande bestellings te bespoedig, terwyl die departement waar nodig aankope by ander verskaffers kan doen om dringend benodigde medisyne by ’n ander goedgekeurde verskaffer te bekom.

Die departement sê dit werk saam met die Nasionale departement van gesondheid, verskaffers, distrikte en gesondheidsfasiliteite om die huidige uitdagings aan te spreek. Nasionale strukture monitor ook beskikbaarheid en identifiseer kritieke medisyne wat aandag verg. Gauteng Health erken dat medisyne-tekorte veral kommer kan veroorsaak vir pasiënte wat van chroniese medikasie afhanklik is.