GAUTENG. – Drie vermeende transitorowers is Vrydag tydens ’n skietgeveg met die polisie dood. Drie burgerlikes is beseer toe die verdagtes se voertuig op die N12 met twee ander voertuie gebots het. Die beseerdes is vir mediese behandeling na ’n hospitaal geneem.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, sê ’n span wetstoepassers het inligting ondersoek oor ’n groep verdagtes wat glo op pad was om ’n rooftog in Roodepoort te pleeg. ’n Wit Mercedes-Benz is in Kliprivierweg opgemerk. Toe die polisie die voertuig by ’n verkeerslig probeer voorkeer, het die insittendes na bewering op beamptes geskiet, wat teruggeskiet het. Die voertuig het beheer verloor en teen twee ander voertuie gebots. Al drie verdagtes in die Mercedes-Benz is op die toneel dood verklaar.
Twee AK-47-aanvalsgewere, verskeie patrone en magasyne is in die voertuig gevind. Die tweede voertuig, ’n wit Audi, is later in Johannesburg se middestad opgespoor en twee verdagtes is in hegtenis geneem.