GAUTENG. – ’n 36-jarige pastoor wat gesoek is in verband met die moord op ’n vier maande oue baba en die beweerde verkragting van haar 43-jarige ma, is Saterdagmiddag in Diepsloot in hegtenis geneem.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, sê die man is ná ’n intensiewe ondersoek deur speurders en misdaadintelligensie opgespoor waar hy in ’n agterkamer in die Diepsloot- informele nedersetting weggekruip het. Hy het beserings gehad toe hy in hegtenis geneem is. Die inhegtenisneming bring die getal verdagtes in die saak op drie te staan, insluitend die man se twee vroue, wat Vrydag in die Atteridgeville-landdroshof voorgekom het.
Die saak spruit uit ’n voorval op 7 Oktober toe die ma van die baba na bewering saam met die pastoor en een van sy vroue na die Hennopsrivier, naby die R511, is vir ’n ritueel. Die vrou is na bewering daar verkrag en vasgebind. Sy kon haarself bevry en hulp by ’n nabygeleë konstruksieterrein kry. Die baba se liggaam is later in ’n vlak graf gevind nadat een van die pastoor se vroue die polisie na die plek gelei het.
Die verdagte sal na verwagting Maandag in die hof verskyn. Die polisie-ondersoek duur voort.