Brekende Nuus
Nuus

Vrou se drankie glo gedokter, word verkrag – beskuldigde in hof

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – ’n Vrou beweer haar buurman het haar drankie gedokter voordat hy haar na bewering verkrag het. Die vrou, ’n enkelma wie se identiteit nie bekend gemaak mag word nie, het na bewering in April 2025 in die hospitaal wakker geword met bloed en kneusplekke, sonder enige herinnering aan wat die vorige aand gebeur het.

Die man het Donderdag vlugtig in die Pretoria-landdroshof verskyn. AfriForum se privaatvervolgingseenheid sê dit is nadat druk op die polisie geplaas was om die saak te ondersoek.

Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die vrou het haar tot die eenheid gewend nadat haar pogings om die polisie aan die werk te kry, nie vordering opgelewer het nie.

Volgens AfriForum is die voorval aanvanklik in April 2025 aangemeld, maar is ’n strafsaak eers op 22 Julie 2025 geregistreer, ’n dag nadat die eenheid die aangeleentheid na die provinsiale hoof van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe verwys het.

Die vrou beweer dat sy op die aand van 20 April 2025 na haar buurman se woonstel genooi is om iets te drink. Sy onthou dat sy ’n uiters bitter smaak opgemerk het voordat sy haar geheue verloor het. Sy het eers die volgende dag in die Tshwane-distrikhospitaal wakker geword. Toe haar familielede na haar woonstel is omdat hulle haar nie in die hande kon kry nie, het hulle na bewering bloedspatsels op die vloere en mure aangetref. Hulle het ook die buurman se kamerjas in haar slaapkamer gevind, terwyl haar klere later by sy woning opgespoor is. Forensiese monsters is by ’n privaat hospitaal geneem en die voorval is by die polisie aangemeld.

Bateman sê die saak se vordering volg te midde van president Cyril Ramaphosa se aankondiging van ’n oudit en herstelplan vir sake van geslagsgebaseerde geweld wat tot stilstand gekom het of laat vaar is. Volgens Bateman toon die stryd om die saak ondersoek en op die hofrol te kry hoe swak sulke sake soms hanteer word. Hy sê die eenheid wag ook steeds op terugvoer van die polisie oor ander sake van geweld teen vroue.