‘Bebloed en mishandel ná gedokterde drankie’ – verkragtingsaak maande later oopgemaak

Lees ook :

Foto's: AfriForum Privaatvervolgingseenheid

GAUTENG. – ‘n Enkelma het op 20 April in die Tshwane-distrikshospitaal met snye en kneusplekke wakker geword. Sy kon glo ná ‘n glas wyn by haar buurman se woonstel niks onthou nie. Drie maande later is daar Woensdag ‘n verkragtingsaak, met behulp van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, by die polisie oopgemaak.

Barry Bateman, die privaatvervolgingseenheid se woordvoerder, sê in ‘n verklaring die saak is ná maande oopgemaak nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid ingegryp en die saak na die GKS- provinsiale hoof geëskaleer het. Die Moot-polisiekantoor het geen verklaring van die slagoffer of getuies geneem nie en die polisie het die saak aanvanklik as ’n navraag hanteer.

Bloedspatsels is deur die klaer se familie in haar woonstel gevind nadat hulle haar nie in die hande kon kry nie. Die buurman se japon is op haar slaapkamervloer en haar bebloede klere by die buurman se woonstel gevind. Aan die privaatvervolgingseenheid het die slagoffer vertel dat haar buurman en sy verloofde haar op die betrokke aand vir ‘n drankie na hulle woonstel genooi het. Met nog ‘n glas wyn wat aangebied is, het sy glo ‘n bitter smaak in haar mond geproe. Ná ‘n paar slukkies kon sy niks onthou nie, totdat sy in die distrikshospitaal wakker geword het.

Adv. Gerrie Nel sê die SAPD toon nie die nodige kundigheid of wil om sulke sake te ondersoek nie. Barry Bateman van AfriForum sê dit is onaanvaarbaar dat ’n verkragtingsaak eers ná drie maande geregistreer is en dat slagoffers steeds met minagting behandel word. Volgens Nel blyk dit dat ondersoekers onbewus is van die feit dat dit gevestigde reg is dat ’n klaer nie kan instem tot seksuele dade nie wanneer sy dronk is of onder die invloed van sekere middels is.

Bateman sê die slagoffer is na ‘n privaat hospitaal geneem om monsters te laat neem om te bepaal of sy verkrag is of nie. Die saak is deur die dokters by die polisie aangemeld, maar die slagoffer het egter nie insae in hulle bevindinge gehad nie. Die slagoffer se pa het ook ‘n afwysende opmerking deur ‘n speurder by die vervolgingseenheid aangemeld.

Lees die volledige verklaring hier.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief