GAUTENG. – Die DA het ’n strafregtelike klag by die Pretoria-Sentraal-polisie ingedien oor die Stad Tshwane se hantering van waterveiligheid in Bronkhorstspruit. Die party sê meer as 160 mense is reeds in die hospitaal opgeneem en honderde ander is vir diarree, dehidrasie en ernstige maagprobleme behandel. Die oorsaak van die siektes is egter nog nie amptelik bevestig nie. Daar is wel bevestig altesaam 408 siekgevalle is tussen 7 en 18 Oktober aangemeld, met die meeste pasiënte jonger as vier jaar.
Nasiphi Moya, die burgemeester van Tshwane, het intussen gesê hulle neem verantwoordelikheid vir die situasie. “Inwoners van Tshwane, ons verstaan die omvang van die uitdaging waarvoor ons in Bronkhorstspruit en omliggende gebiede te staan kom om veilige en betroubare watervoorsiening te verseker. As die uitvoerende burgemeester van die Stad Tshwane rus die finale verantwoordelikheid by my. Ons vra om verskoning aan die inwoners van Streek 7 dat ons nog nie die waterprobleem opgelos het wat die gebied al jare lank teister nie. Ons fokus tans hoofsaaklik daarop om te verseker dat die aantal gevalle nie toeneem nie en dat inwoners presies weet wat om te doen.”
Die Stad Tshwane se uitvoerende burgemeester, dr. Aaron Motsoaledi en Pemmy Majodinadie, ministers van gesondheid en water en sanitasie, het ’n dringende vergadering met Panyaza Lesufi, Gautengse premier, oor die situasie gehou en ‘n gesamentlike verklaring uitgereik.
Ondersoeke deur die departement van water en sanitasie het bevind dat probleme met die Stad Tshwane se chloorvoorsiening daartoe gelei het dat water by die Bronkhorstspruit-watersuiweringswerke tussen 24 September en 14 Oktober nie met chloor behandel is nie. Toetse het hoë vlakke van E. coli en ander coli-vorme in die water getoon, terwyl laboratoriumtoetse op pasiënte se monsters verskeie siekteveroorsakende organismes geïdentifiseer het. Geen sterftes is tot dusver aangemeld nie. Die Stad Tshwane het die watersuiweringswerke op 14 Oktober gesluit en drinkwater word sedertdien met watertenks aan inwoners van die geaffekteerde gebiede, waaronder Zithobeni, Dark City, Rethabiseng en Sokhulumi, voorsien.
Cilliers Brink, die DA se burgemeesterskandidaat in Tshwane, sê die party het inligting van ’n fluitjieblaser ontvang dat die Bronkhorstspruit-waterbehandelingsaanleg na bewering drie weke lank sonder chlorering bedryf is. Die DA beweer ook dat toetse by die Bronkhorstspruit-afvalwaterbehandelingswerke cholera-bakterieë in monsters getoon het.
Die party eis dat Nasiphi Moya, burgemeester, die volledige watergehaltetoetsuitslae bekend maak en verduidelik waarom inwoners nie vroeër gewaarsku is nie. Die DA vra ook vir ’n forensiese ondersoek na die R777 miljoen wat in die 2024/25-boekjaar aan watertenks bestee is, teenoor R181 miljoen aan herstelwerk en instandhouding van waterinfrastruktuur. Die party se bewerings oor die besteding en moontlike nalatigheid is nie op hul eie bewys van misdrywe nie.
Inwoners word gewaarsku om nie kraanwater te drink of vir kosvoorbereiding, bad, tandeborsel of wasgoed te gebruik nie; dit mag slegs vir toiletspoeling gebruik word. Intussen word verdere waterkwaliteittoetse en ’n onafhanklike ondersoek gedoen, terwyl herstelwerk aan die watersuiweringswerke beplan word. Daar is nog geen tydraamwerk vir wanneer die water weer veilig sal wees om te drink nie.