Brekende Nuus
Nuus

Indien jy ‘n passie het om SA te beskerm – SAPD werf 5 500 rekrute

Foto: SAPD

GAUTENG. – Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het aanlyn aansoeke vir 5 500 polisierrekrute vir die 2026/2027-boekjaar geopen. Die aansoekproses wat vandag geopen is, sluit op 13 November. Suid-Afrikaanse burgers tussen 18 en jonger as 35 jaar, wat ’n loopbaan in die polisie wil volg, word aangemoedig om aansoek te doen. Kandidate moet minstens ’n graad 12-sertifikaat hê en mag geen kriminele rekord of hangende strafsaak teen hulle hê nie.

Aansoeke moet deur die amptelike SAPD-werwingsportaal ingedien word: https://erecruitment.saps.gov.za/. Kol. Amanda van Wyk, nasionale polisiewoordvoerder, sê die werwingsveldtog bied jong Suid-Afrikaners die geleentheid om hul kennis en vaardighede tot misdaadbekamping by te dra. Gegradueerdes in onder meer die regte, polisiëring, kriminologie, wetstoepassing, forensiese ondersoek en inligtingstegnologie kan vir moontlike plasing in gespesialiseerde afdelings oorweeg word, waaronder die Valke, speur- en forensiese dienste en misdaadintelligensie. 

Alle kandidate moet ’n keuringsproses deurloop wat fiksheids-, psigometriese en integriteitstoetse, ’n mediese evaluering en ’n onderhoud insluit. Rekrute met ’n toepaslike kwalifikasie op NKR-vlak 6 of hoër sal ses maande se opleiding by ’n SAPD-opleidingsakademie ontvang, terwyl ander die standaard nege maande lange opleidingsprogram moet voltooi. Alle rekrute ontvang gedurende opleiding ’n maandelikse toelaag van R5 000.

Die polisie waarsku dat aansoeke gratis is en dat geen polisieloopbaan of pos te koop is nie. Aansoekers moet versigtig wees vir bedrieërs wat geld vra in ruil vir ’n pos of beweer dat hulle die werwingsproses kan beïnvloed. Belangstellendes word aangeraai om vroegtydig aansoek te doen en slegs die amptelike SAPD-portaal te gebruik.