Brekende Nuus
Nuus

Tweelingbroers by onderneming in Bloemfontein doodgeskiet

Foto's: SAPD

VRYSTAAT. – 52-jarige tweelingbroers is vanoggend (Woensdag) by die hek van ’n perseel in Ramatsoelestraat, Bochabela, naby Bloemfontein, doodgeskiet. Die slagoffers, Kegomodicoe Lekone en Keabecoe Lekone, was volgens die polisie die eienaars van Ekhayeni Lounge Bar. Hulle was in ’n donkergrys Ford Ranger toe hulle geskiet is. ER24-paramedici het albei mans op die toneel dood verklaar.

Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê die polisie het kort voor 09:00 ’n oproep oor ’n skietery ontvang en was kort ná 09:00 op die toneel. ’n Getuie beweer hy het skote vanaf die boonste verdieping van die dubbelverdiepinggebou gehoor. Toe hy ondersoek instel, het hy ’n man gesien wat na ’n wit Chevrolet Aveo-luikrug hardloop. Die voertuig het daarna weggery en kon volgens die getuie nog twee insittendes gehad het. Dit is nie duidelik hoeveel verdagtes by die skietery betrokke was nie.

Die polisie se eenheid vir ernstige en geweldsmisdade, moord en roof het ’n soektog na die verdagte of verdagtes van stapel gestuur. Twee sake van moord is by die Mangaung-polisiestasie geopen. Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, kan kol. Msokoli Bolsick by 082 466 8530 bel.