KWAZULU-NATAL. – ’n Man wat daarvan beskuldig word dat hy ’n vrou verkrag en haar daarna probeer beroof het, is Saterdag in die Lions River-omgewing in hegtenis geneem.
Volgens Mi7 National Group se verklaring het ’n operateur by die beheerkamer ’n oproep van ’n kliënt ontvang oor ’n beweerde poging tot roof naby die Nelson Mandela Capture Site. ’n Reaksiebeampte is na die toneel gestuur en het daar aangekom terwyl die kliënt en ’n polisiebeampte wat nie aan diens was nie, met die verdagte aan die stoei was. Die verdagte het na bewering weerstand gebied en probeer om die reaksiebeampte se vuurwapen te gryp, maar die beampte het daarin geslaag om beheer oor sy wapen te behou en gehelp om die man te bedwing.
Volgens inligting wat op die toneel ontvang is, het die man die vrou na bewering die vorige dag verkrag en haar later weer genader met die beweerde doel om haar te beroof. Die vrou sou na bewering ’n verkragtingsaak teen hom aanhangig maak. Die insident is aan die polisie oorhandig vir verdere ondersoek.