Brekende Nuus
Nuus

‘Brittanje moet binne 1 000 dae gereed wees vir moontlike oorlog’ – Streeting

Foto: Wes Streeting

VK. – Brittanje moet binne net meer as 1 000 dae gereed wees om saam met sy bondgenote oorlog te voer en te wen, waarsku Wes Streeting, Britse minister van verdediging. Hy sê vyandige lande kan teen 2030 oor die militêre vermoë beskik om Brittanje aan te val. Die waarskuwing kom te midde van toenemende kommer oor Rusland se militêre vermoëns, kuberaanvalle en bedreigings teen kritieke infrastruktuur.

Streeting het die waarskuwing in ’n artikel in LBC gemaak en gesê Brittanje se prioriteit moet wees om sy verdedigingsvermoë te versterk en saam met sy Navo-bondgenote vir moontlike konflik voor te berei. Volgens berigte het hy beklemtoon dat die vermoë van vyandige lande om skade aan te rig, verander, selfs al is hul bereidwilligheid om dit te doen nie nuut nie. Die doel is om moontlike aanvallers af te skrik, maar ook om te verseker dat die land gereed is indien afskrikking misluk

Die waarskuwing val saam met die Britse regering se nuwe Be Ready-veldtog, wat inwoners aanmoedig om noodvoorrade vir minstens drie dae by die huis te hou. Die amptelike riglyne beveel onder meer drinkwater, kos wat lank hou, ’n flits, komberse, kontant en ’n noodhulpkissie aan. Die regering sê die voorbereiding is bedoel om huishoudings te help indien noodsaaklike dienste soos elektrisiteit, water of internettoegang ontwrig word. Dit beteken nie dat ’n oorlog binne dié tydperk verwag of as onvermydelik beskou word nie.

Die Britse regering se Strategiese Verdedigingsoorsig het ook gewaarsku dat die land se veiligheidsomgewing verander en dat Brittanje sy militêre gereedheid en die beskerming van kritieke infrastruktuur moet versterk. Die dokument beklemtoon die belang van samewerking met Navo-bondgenote en groter veerkragtigheid teen bedreigings, ook dié wat nie die vorm van ’n konvensionele militêre aanval aanneem nie.

Bronne: Anadolu Agency, LBC, The Independant