KWAZULU-NATAL. – ’n Man (35) is Sondag in KwaDabeka in hegtenis geneem in verband met ’n beweerde poging tot motorkaping en drie aanklagte van poging tot moord in Pinetown. Die voorval met ‘n pa en sy twee kinders het Vrydag 9 Oktober in Lee Place in hulle oprit plaasgevind. ‘n Video van die voorval is wyd op sosiale media gedeel.
Volgens lt.kol. Paul Magwaza, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, het onbekende verdagtes glo uit ’n voertuig agter die gesin geklim. Een van hulle het na bewering op die pa begin skiet, waarna hy teruggeskiet en een verdagte noodlottig gewond het.
Inligting het Pinetown-speurders, wat die saak ondersoek, na KwaDabeka gelei, waar die verdagte aangekeer is. Die man is ook in besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en 14 rondtes ammunisie gevind.
Die verdagte staan tereg op aanklagte van poging tot motorkaping, drie aanklagte van poging tot moord en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Hy sal na verwagting Dinsdag in die Pinetown-landdroshof verskyn.

Foto: SAPD