KWAZULU-NATAL. – Alexis-Jayde van Wyk (19), ’n jong sjefstudent van Pietermaritzburg, is in ’n trompopbotsing dood. Sy het op 15 Oktober haar 19de verjaardag gevier. Haar kêrel, Aiden, is ernstig in die ongeluk beseer en veg tans vir sy lewe in ‘n hospitaal.
Volgens haar ma, Celeste van Wyk, was Alexis-Jayde, wat as Alley bekend was, Saterdag saam met Aiden op pad huis toe nadat sy haar finale praktiese high tea-eksamen by die Jackie Cameron School of Food & Wine afgelê het. Sy moes met reddingskake uit die wrak verwyder word en is volgens haar ma aan haar beserings op die toneel dood.
Celeste het op ‘n skarebefondsingsprofiel wat begin is om hulle met ‘n gedenkdiens vir Alley te help, vertel hoe moeilik dit is om haar dogter te verloor, dat haar dood die familie se lewe vir altyd verander het. Sy het geskryf dat sy haar kind se boodskappe, oproepe, drukkies en soentjies geweldig gaan mis. Sy het ook vertel hoe trots sy was oor Alexis-Jayde se vordering met haar sjefopleiding.
Die Jackie Cameron School of Food & Wine het ook hulde aan Alexis-Jayde gebring en haar beskryf as ’n student met ’n besondere persoonlikheid, ’n liefde vir die lewe en baie potensiaal. Haar high tea-eksamen was deur die tema van haar geliefde kinderkarakter, Winnie the Pooh, geïnspireer. Die sjefskool het gesê sy het ’n belowende toekoms in die voedselbedryf gehad en gedroom om eendag as ’n sjef op ’n seiljag oor die wêreld te reis.
Haar dood laat haar familie en die sjefskoolgemeenskap in rou.