GAUTENG. – ’n 49-jarige polisiesersant van Honeydew word daarvan beskuldig dat hy ’n vroulike familielid verkrag het toe sy tussen 14 en 16 jaar oud was. Sy borgtogaansoek is Maandag in die Protea-landdroshof tot 28 Oktober uitgestel.
Lizzy Suping, Opod-woordvoerder, sê die sersant is op 23 Oktober in hegtenis geneem. Volgens Opod het die vrou onder die sorg van haar tante, wat met die verdagte getroud was, gewoon nadat albei haar ouers oorlede is. Die beweerde seksuele misdrywe het tussen 2022 en Oktober 2024 plaasgevind. Die verdagte het haar glo seksueel aangerand terwyl haar tante in die hospitaal was en het gedreig en haar geïntimideer om stil te bly. Hy het haar ook glo geld gegee om te keer dat sy die beweerde voorvalle bekend maak.
Die sersant staan tereg op aanklagte van verkragting en seksuele voorbereiding met die oog op seksuele uitbuiting. Hy is voor sy eerste hofverskyning by die Moroka-aanhoudingselle aangehou.
Opod het in die 2025/2026-boekjaar 116 sake van beweerde verkragting deur polisiebeamptes aangeteken, teenoor 95 in die vorige boekjaar. Gauteng het met 21 sake die tweede hoogste getal aangeteken, ná die Oos-Kaap.