GAUTENG. – Desmond Nair, geskorste hooflanddros van Pretoria, het onskuldig gepleit op al die aanklagte van korrupsie teen hom in die Pretoria-handelmisdaadhof. Die verhoor hou verband met beweerde veiligheidsopgraderings ter waarde van sowat R200 000 wat in September 2016 by sy huis in Gauteng aangebring is.
Henry Mamothame, woordvoerder van die NVG se ondersoekdirektoraat vir prioriteitsmisdade, sê die staat het sy getuienis begin lei met ’n eerste getuie wat by ’n filiaal van Bosasa gewerk het. Die getuie het getuig oor die beweerde installering van die veiligheidsopgraderings by Nair se woning. Dit het ’n elektriese heining, alarmstelsel, infrarooi-veiligheidsstrale en ’n kringtelevisiestelsel ingesluit. Die opgraderings is na bewering deur African Global Operations, voorheen bekend as Bosasa, verskaf.
Nair word daarvan beskuldig dat hy die voordeel ontvang het in ruil vir sy invloed om “oneerlik of onbehoorlik” as regterlike beampte op te tree. Die saak is vir die voortsetting van die verhoor tot 27 Oktober uitgestel.