Brekende Nuus
Nuus

Man sonder lisensie wat glo oor polisievrou ry steeds in aanhouding

Foto: atRest Undertakers

NOORDWES. – Akilesh Gupta (23) bly in aanhouding, nadat die aanklag van strafbare manslag teen hom na moord verander is. Dit volg ná die dood van AO Eunice Nortman wat op 19 Oktober deur ’n voertuig omgery is. Gupta het na bewering die voertuig bestuur. Hy het Dinsdag in die Lichtenburg-landdroshof in Noordwes verskyn, waartydens die saak vir die aanstelling van ‘n Hindi-tolk uitgestel is.

Lindiwe Mabasa, NVG-woordvoerder, sê Gupta staan tereg op aanklagte van moord, oortreding van die immigrasiewet, bestuur sonder ’n geldige bestuurslisensie en kwaadwillige saakbeskadiging. Volgens die NVG is daar beeldmateriaal waarop Gupta na bewering ’n polisievrou wat aan diens was, met ’n voertuig omgery het. Die beampte is beseer en is later oorlede. 

Gupta, ‘n Indiese burger, word daarvan beskuldig dat hy nie oor geldige dokumentasie beskik om in Suid-Afrika te bly nie. Hy het na bewering in 2024 met ’n besoekersvisum die land binnegekom, maar dié visum het sedertdien verval.

Die saak is tot 6 November uitgestel sodat ’n Hindi-tolk aangestel kan word en ’n moontlike borgtogaansoek aangehoor kan word. Gupta bly in aanhouding. Dr. Rachel Makhari, direkteur van openbare vervolging in Noordwes, het gesê die NVG sal saam met sy vennote in die strafregstelsel voortgaan om te verseker dat die reg sy loop neem.