MPUMALANGA. – ‘n 43-jarige man is in hegtenis geneem nadat ‘n man en ‘n vrou Dinsdagmiddag buite ‘n vulstasie in Witbank doodgeskiet is.
Volgens kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, was die twee slagoffers omstreeks 15:30 in ’n voertuig toe hulle na bewering deur ’n verdagte, wat uit die teenoorgestelde rigting gery het, onder skoot gekom het. Albei is op die toneel dood verklaar. Die verdagte het ná die skietery van die toneel weggejaag.
’n Span wetstoepassers het hom later by Greenside Colliery in Witbank opgespoor en in hegtenis geneem. ’n Vuurwapen wat vermoedelik tydens die skietery gebruik is, is in sy besit gevind en deur die polisie gekonfiskeer. Dit sal vir ballistiese toetse gestuur word. Die motief vir die skietery is nog onbekend.
Die verdagte sal na verwagting binnekort op twee aanklagte van moord in die Witbank-landdroshof verskyn.