WES-KAAP. – ‘n 34-jarige minibustaxibestuurder is Donderdagaand in Mfuleni doodgeskiet, terwyl ‘n vrou in dieselfde aanval gewond is. Drie verdagtes is kort ná die voorval in hegtenis geneem nadat polisiebeamptes vier ongelisensieerde 9 mm-pistole en 147 rondtes ammunisie in hul besit gevind het.
Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, sê polisiebeamptes van die Mfuleni-misdaadvoorkomingseenheid was besig met voetpatrollies in Ngubelanistraat toe hulle drie mans opgemerk het wat in hul rigting hardloop. Die mans het probeer wegkom toe hulle die polisie sien, maar is voorgekeer. Verdere ondersoek het die polisie na die misdaadtoneel gelei, waar die taxibestuurder met skietwonde in die bestuurdersitplek van sy voertuig aangetref is. Die gewonde vrou is in die hospitaal opgeneem.
Die drie verdagtes, tussen 25 en 30 jaar oud, sal na verwagting Maandag op aanklagte van moord, poging tot moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens in die Blue Downs-landdroshof verskyn.