WES-KAAP. – Die polisie en die Stad Kaapstad het Donderdag gesprek gevoer oor taxigeweld en die uitdagings wat die openbare vervoersektor raak. Die veiligheid van pendelaars, openbare vervoeroperateurs en gemeenskappe is bespreek.
Lt.genl. Sizakhele Dyantyi, Wes-Kaapse provinsiale polisiekommissaris, sy provinsiale bestuur, sowel as verteenwoordigers van die Stad Kaapstad se veiligheids- en sekuriteitsdirektoraat, Vincent Botto, kommissaris Johan Brandt en Wayne le Roux, was teenwoordig. Die polisie en die Stad het hul verbintenis tot samewerking deur gekoördineerde operasies, geteikende ontplooiings en sigbare polisiëring bevestig om taxigeweld te voorkom en daarop te reageer. Diegene wat vir geweld verantwoordelik is, moet aangekeer word om die publiek te beskerm.
Die polisie sê hy sal voortgaan om met sy vennote saam te werk om geweldsmisdaad te bekamp en openbare vervoer in die Wes-Kaap veiliger te maak.
Die geweld tussen taxiverenigings is ten sterkste veroordeel deur Stad Kaapstad nadat verskeie skietvoorvalle sedert Woensdag by taxistaanplekke aangemeld is. Die geweld het onder meer Delft, Khayelitsha, Mfuleni en Gugulethu geraak. Die Delft-openbarevervoerknooppunt (PTI) was tydelik gesluit nadat geweld uitgebreek het. Die Stad waarsku dat die voortslepende roetegeskille duisende pendelaars kan raak wat daagliks van minibustaxi’s afhanklik is.
Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, sê die Stad bied sy volle ondersteuning aan die polisie – metro-polisiebeamptes het saam met die polisie op verskeie voorvalle gereageer. JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, doen ‘n beroep op die publiek om inligting oor die skietvoorvalle te deel.
Volgens raadslid Rob Quintas, burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, hou die geweld verband met langdurige roetegeskille tussen die Cape Amalgamated Taxi Association (Cata) en die Congress of Democratic Taxi Associations (Codeta), veral in Delft, Khayelitsha en Somerset-Wes. Die jongste spanning sentreer rondom betwiste roetes tussen Delft, Epping en Killarney. Die stad doen ‘n beroep op die verenigings se leierskap om hul lede tot orde te roep en die geweld te beëindig.
Die publiek kan inligting anoniem by die Stad se wenklyn aanmeld by 0800 110 077, wat 24 uur per dag beskikbaar is.