NOORDWES. – Polisiekaptein Bonita Dry word geloof vir haar leiding en vasberadenheid nadat al vyf verdagtes in die wrede plaasaanval op die 50-jarige Donovan Marx by Ventersdorp in hegtenis geneem is.
Kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder, sê die laaste drie verdagtes is op 1 November in Promosa, naby Potchefstroom, deur die Ventersdorp-speurders, met ondersteuning van die provinsiale teen-bende-eenheid, aangekeer. Dit bring die totale getal verdagtes op vyf te staan. Tydens die operasie is vier vuurwapens, waarvan twee met die Ventersdorp-voorval verbind word, asook kledingstukke en juweliersware in beslag geneem.
Marx is op Woensdag 28 Oktober op sy plaas in die Syferfontein-omgewing buite Ventersdorp geskiet en wreed aangerand. Sy ore is ook afgesny. Lt.genl. Arthur Peter Adams, provinsiale polisiekommissaris van Noordwes, het die ondersoekspan onder bevel van kapt. Dry geloof vir hul volgehoue pogings, deursettingsvermoë en samewerking om die verdagtes op te spoor.
Die vyf verdagtes, tussen 26 en 56 jaar oud, sal na verwagting op 3 November op aanklagte van huisroof, poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie in die Ventersdorp- en Potchefstroom-landdroshowe verskyn


