WES-KAAP. – Denise Ellie Lewis-Swart, die vrou wat na bewering verlede week by die De Dekke-winkelsentrum in Groot-Brakrivier ontvoer is, is ongedeerd in Richmond in die Noord-Kaap ongedeerd gevind.
AO Christopher Spies, polisiewoordvoerder, het aan Nuusflits bevestig dat die ondersoek die polisie na Richmond geneem het, waar Denise opgespoor is. Die persone by wie sy gevind is, is nie in hegtenis geneem nie.
Die polisie het die publiek se hulp ingeroep nadat Denise na bewering Donderdagmiddag 29 Oktober deur vier mans by die winkelsentrum ontvoer is. Sy was glo daar om kruideniersware en wegneemkoffie te koop. Volgens inligting wat Missing Person South Africa vroeër gedeel het, het haar familie beweer dat sy met geweld in ‘n wit GAC M8 Master-voertuig gedwing is, waarna daar met haar weggery is.
AO Spies het vroeër bevestig dat die omstandighede rondom haar verdwyning ondersoek word en dat ‘n ontvoeringsdossier vir verdere ondersoek geopen is. Die Wes-Kaapse polisiebestuur het almal bedank wat met die soektog gehelp en hulpbronne beskikbaar gestel het.