Brekende Nuus
Nuus

281 oor 7 dae in hegtenis vir mensehandel en seksuele uitbuiting van kinders

Foto: Ter illustrasie

FLORIDA, VSA. – Altesaam 281 mense is in hegtenis geneem en 488 strafregtelike aanklagte is aanhangig gemaak ná ’n sewe dae lange geheime polisie-operasie in Polk County, Florida. Die operasie, genaamd Polk Around and Find Out II, het op mensehandel en volwassenes wat kinders vir seksuele doeleindes probeer uitbuit, gefokus. Disney het intussen werkenemers wat in hegtenis geneem is in die pad gesteek.

Die resultate is op Vrydag 30 Oktober 2026 deur die owerhede bekend gemaak. 17 pretparkwerknemers is van diegene wat in hegtenis geneem is, 13 van Walt Disney World en vier van Universal Orlando. Volgens die Polk County-balju, Grady Judd, het sewe van die 17 werknemers deel gevorm van die ondersoek na vermeende “seksroofdiere” wat kinders teiken. 

Disney het volgens Judd bevestig dat die betrokke werknemers afgedank is. Een van die verdagtes was ’n voormalige Disney-karaktervertolker wat voorheen Mickey Mouse gespeel het. Hy is daarvan beskuldig dat hy aanlyn met ’n ondersoeker, wat hom as die voog van ’n 13-jarige seun voorgedoen het, gekommunikeer en probeer reël het om die kind te ontmoet.

‘n Jeugsportafrigter en ’n adjunkbalju van Orange County is ook in hegtenis geneem. Die ondersoekers het tydens die operasie 24 vuurwapens, metamfetamien, kokaïen en fentaniel in beslag geneem. Altesaam 32 verdagtes is ook van dwelmbesit aangekla. Die ondersoek het verder gelei tot die identifisering van 11 moontlike slagoffers van mensehandel. Hulle is hulp en ondersteuning deur gemeenskaps- en maatskaplike diensorganisasies aangebied.

Die Polk County-balju se kantoor het die operasie saam met verskeie ander wetstoepassingsagentskappe uitgevoer. Die operasie het uit twee gelyktydige ondersoeke bestaan: een wat volwassenes geteiken het wat kinders vir seksuele doeleindes wou ontmoet en ’n tweede wat op mensehandel en prostitusieverwante oortredings gefokus het.

Die verdagtes word as onskuldig beskou totdat hulle in ’n hof skuldig bevind word.

Bronne: Fox 13 Tamba Bay, NBC 6, WDWInfo