NOORDWES. – Twee verdagtes is doodgeskiet en ‘n derde is gewond nadat die polisie ‘n vermeende kontant-in-transito-roof in die Swartdam-gebied, naby Brits, gefnuik het.
Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die voorval het Dinsdagaand omstreeks 21:50 plaasgevind toe lede van die taktiese reaksie-eenheid, inligting oor ‘n moontlike kontant-in-transito-roof in die Bojanala-gebied ondersoek het. Die verdagtes is in die Swartdam-omgewing opgespoor en het na bewering op die polisie losgebrand, waarna die polisie teruggeskiet het. Twee verdagtes is tydens die skietery op die toneel dood. ‘n Derde verdagte, wat gewond is, het in die bosse weggekruip en is eers met daglig opgespoor.
Die gewonde verdagte is na ‘n plaaslike hospitaal geneem, waar hy onder polisiebewaking is. Op die toneel is ‘n AK47-aanvalsgeweer en ‘n DM4-geweer gevind. Springstof is ook in ‘n Toyota-dubbelkajuitbakkie, wat glo vir die misdaad gebruik is, ontdek. Die operasie is deur TRT-beamptes van Brits, Klerksdorp, Rustenburg en Mahikeng uitgevoer. Ná die skietery is die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) in kennis gestel om toesig oor die ondersoek te hou. Die ondersoek duur voort.