NOORDWES. – Donovan Marx toon verdere vordering in sy herstel nadat hy agt dae gelede tydens ’n gewelddadige plaasaanval ernstige beserings opgedoen het. Sy familie het Donderdag 5 November ’n nuwe foto van hom uit Mediclinic Potchefstroom gedeel en sê hulle is dankbaar vir die positiewe vordering wat hy maak. Marx is tydens die aanval op 28 Oktober geskiet, met ’n mes gesteek en ernstig aangerand. Hy het ook albei sy ore verloor.
Steyn Du Toit Ingelyf, wat namens die familie kommunikeer, sê Louise Marx is dankbaar vir die gebede en ondersteuning wat hulle van mense regoor Suid-Afrika ontvang het. Sy beskryf dit as ’n wonderwerk dat Donovan leef en sê die familie glo dat hy steeds deur sy herstelpad gedra sal word. Hoewel sy toestand verbeter, is sy beserings steeds ernstig en benodig hy gespesialiseerde mediese sorg, noukeurige monitering en verdere hersteltyd. Die familie bedank die mediese span van Mediclinic Potchefstroom en vra dat die publiek voortgaan om vir Donovan se herstel te bid. Hulle versoek ook dat sy privaatheid gerespekteer word terwyl hy behandeling ontvang en dat die strafregtelike proses sy verloop neem.
Die foto is volgens die familiewoordvoerder met Donovan se uitdruklike toestemming beskikbaar gestel. Marx, ’n beesboer, is op 28 Oktober op sy plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp aangeval en gemartel. Hy is geskiet, met ’n mes gesteek en aangerand, terwyl sy aanvallers ook sy albei ore afgesny het. ’n Plaaswerker is tydens die aanval vasgebind, maar kon ontsnap en alarm maak. Donovan is met ernstige beserings in Mediclinic Potchefstroom opgeneem.
Vyf verdagtes is aanvanklik in verband met die aanval in hegtenis geneem. Vier van hulle, Phindile Nomngcayi (30), Thomas Motlhangthlang (27), Godfrey Mathipa (56) en Jan Maishoane (53), het op 3 November in die Ventersdorp-landdroshof verskyn. Die vyfde verdagte is van die klagstaat verwyder en sal na verwagting ingevolge artikel 204 as staatsgetuie optree. Die vier beskuldigdes bly in aanhouding. Die saak is tot 13 November 2026 uitgestel vir hul borgaansoeke, wat die staat aangedui het hy sal teenstaan.
Lees die volledige verklaring hier onder:
Namens Louise en Donovan Marx en hul familie
5 November 2026 | Potchefstroom
DONOVAN MARX SE HERSTEL BRING NUWE HOOP – FAMILIE DANK GOD VIR SY GENADE EN SUID-AFRIKANERS VIR HUL GEBEDE
Louise en Donovan Marx en hul familie deel vandag met besondere dankbaarheid en verwondering die positiewe nuus dat Donovan steeds vordering toon in sy herstel ná die uiters gewelddadige plaasaanval op 28 Oktober 2026.
Die familie deel ook vandag, met Donovan se persoonlike toestemming, ‘n foto wat vanoggend van hom in die hospitaal geneem is.
Die foto is vir die familie veel meer as bloot ‘n beeld van Donovan se herstel. Dit is vir hulle ‘n getuienis van God se groot genade, Sy beskerming en die krag van gebed.
‘n Getuienis van geloof, hoop en genade.
Slegs agt dae gelede het Donovan ernstige, lewensbedreigende beserings tydens die aanval opgedoen. Hy is geskiet, met ‘n mes gesteek, ernstig aangerand en het beide sy ore verloor.
Hy het reeds groot chirurgiese ingrypings ondergaan en sy herstelpad is nog lank.
Ten spyte van die erns van sy beserings en die uitdagings wat hy reeds moes oorkom, is die familie bemoedig deur die vordering wat hy maak.
Vir Louise, Donovan en hul geliefdes is die feit dat hy vandag leef, kan glimlag en voortgaan om te herstel, niks minder nie as ‘n wonderwerk en ‘n getuienis van God se genade.
“Ons wil hê Suid-Afrika moet die vrug van hulle gebede sien”
Louise spreek namens haar en Donovan hul innige dankbaarheid uit:
“Ons harte loop oor van dankbaarheid. Wanneer ons terugdink aan wat Donovan deurgemaak het en ons hom vandag sien, kan ons net aan die Here al die eer gee.
Ons weet hoeveel mense regoor Suid-Afrika vir Donovan gebid het en steeds bid. Vandag wil ons graag hierdie foto met julle deel sodat julle ook die vrug van julle gebede kan sien.
Dit is vir ons ‘n wonderwerk dat hy lewe. Ons sien elke dag die Here se groot genade in sy herstel.
Ons weet daar lê nog ‘n lang pad voor, maar ons glo dat dieselfde God wat hom tot hier gedra het, hom ook verder sal dra.
Dankie aan elkeen wat saam met ons bid, hoop en glo. Julle liefde en ondersteuning beteken vir ons meer as wat woorde ooit kan beskryf.”
DONOVAN SE HERSTEL BLY DIE PRIORITEIT
Hoewel Donovan se vordering vir die familie groot rede tot dankbaarheid bied, bly sy beserings ernstig en benodig hy steeds gespesialiseerde mediese sorg, noukeurige monitering en verdere hersteltyd.
Die familie is besonder dankbaar vir die mediese span van Mediclinic Potchefstroom en die toegewyde sorg wat hy ontvang.
Hulle vra dat die publiek sal voortgaan om vir sy volledige herstel, die voorkoming van ernstige komplikasies en die wysheid en leiding van sy behandelende mediese span te bid.
DANKIE, SUID-AFRIKA
Die familie spreek opnuut hul opregte dankbaarheid uit teenoor die gemeenskappe van Ventersdorp en Potchefstroom, asook die duisende Suid-Afrikaners en mense van regoor die wêreld wat deur gebede, boodskappe, praktiese hulp en onbaatsugtige ondersteuning by hulle staan.
Te midde van soveel hartseer het die familie ook die besondere goedheid en medemenslikheid van Suid-Afrikaners ervaar.
Hulle vra dat Donovan steeds die nodige ruimte en privaatheid gegun word om te herstel en dat die voortgesette strafregtelike proses gerespekteer word.
“Aan God alleen al die eer. Die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.” – Johannes 1:5